Top sjefs dis feesmaal op vir Veritas 25ste gala-ete

7 October 2015

6cba10e1-943c-4d64-8ed1-d8ff7548f1b2Die Veritas Toekennings, Suid-Afrika se oudste en invloedrykste wynkompetisie, vier vanjaar 25 jaar van uitnemendheid in wyn met ‘n skouspelagtige gala-ete wat Vrydag, 9 Oktober sal plaasvind by die KIKS – ‘n jaarlikse hoogtepunt op die bedryfskalender.

Ter viering van die kwarteeu-mylpaal, sal gaste getrakteer word op ‘n watertand viergang-spyskaart wat spesiaal ontwerp is deur die bekende glanssjefs Bertus Basson en David Higgs, en die KIKS se uitvoerende sjef Warwick Thomas. Die ete sal aangevul word deur geselekteerde onlangse Veritas-goud en -dubbelgoudwenwyne, asook ‘n versameling brandewyne en Qualité bekroonde kase.

Die spyskaart skop af met ‘n Higgs-skepping: lemoen-gepekelde forel vergesel deur sonneblomsaadpesto en ‘n sonneblomspruitslaai, ingelegte komkommer, radys en gesoute amandels. Die hoofgereg word voorberei deur Warwick Thomas, wat ‘n lamlendeskyf met stadig-geroosterde lamskouer sal voorsit, sowel as pampoenrisotto met beenmurg, en ‘n suikerertjie- en tamatiesalsa. Nagereg is Basson se innovering, met die gepaste naam Nagereg by my ma se tafel, wat ‘n yskastert en sy ma se appeltertresep saamsnoer, nostalgies bedien met jellie, vla en roomys.

Basson het roem verwerf deur die vestiging van Overture Restaurant in Stellenbosch as een van die beste restaurante in Suid-Afrika, wat vir ses agtereenvolgende jare die gesogte Eat Out Top 10-lys gehaal het. Hy word hoog aangeslaan vir sy verbintenis tot die gebruik van vars, plaaslike bestandele en sy vaardigheid in die fyn afronding van elke dis. Basson is deesdae ‘n bekende naam in Suid-Afrikaanse huishoudings vanweë sy verskynings in die televisiereeks Ultimate Braai Master, waarvan die vierde seisoen tans uitgesaai word.

Higgs is aangewys as SA Sjef van die Jaar deur Eat Out-tydskrif in 2011 en het in 2012 uitvoerende sjef geword by die gesiene Saxon Hotel in Johannesburg se glansryke Sandhurst-mekka. Sy vorige ervaring sluit die medevestiging van ‘n fynproewer-restaurant saam met Jean Engelbrecht by die historiese Rust en Vrede-wynplaas in, en hy het ook op verskeie geleenthede vir Nelson Mandela gekook. Vir drie jaar het hy by die bekroonde Meerendal-landgoed gewerk waar hy nie net hul fynproewer-restaurant gevestig het nie, maar ook sy eie kookskool op die perseel bedryf het.

Albei sjefs het verskeie toekennings oor die jare verower.

Vir meer inligting oor die Veritas Toekennings, besoek www.veritas.co.za of bly in verbinding met die Veritas Toekennings op sosiale media. Volg hulle op Facebook, Twitter en Google+. Gebruik die hutsmerk #Veritas25 en neem deel aan die gesprek.

More Articles