Internasionale wyn- en brandewynkenners beoordeel by Veritas

Young Wine Writers encouraged to illustrate their talent
September 14, 2015
Top sjefs dis feesmaal op vir Veritas 25ste gala-ete
October 7, 2015
Young Wine Writers encouraged to illustrate their talent
September 14, 2015
Top sjefs dis feesmaal op vir Veritas 25ste gala-ete
October 7, 2015

Internasionale wyn- en brandewynkenners beoordeel by Veritas

5ae16e5b-190a-4e26-9d67-76f9a8f81be5Oor die volgende paar dae gaan belangrike gebeure op die wynkalender afspeel wanneer etlike van die beste wyn- en brandewynkenners ter wêreld in die Paarl byeenkom vir die beoordeling van vanjaar se Veritas inskrywings. Dit is die oudste en mees invloedryke wynkompetisie in Suid-Afrika, en vier vanjaar 25 jaar van uitnemendheid.

Vanjaar is 1 763 wyne ingeskryf met 290 deelnemende produsente wat meeding. Sauvignon Blanc, Shiraz en Cabernet Sauvignon beklee die top drie kategorieë, met 229, 167 en 132 wyne onderskeidelik. Bordeaux-versnitte volg kort op hul hakke met 120 inskrywings. Elke wyn sal op voorkoms, neus en smaak takseer word en hul oordeel ontvang van meer as 100 beoordelaars, waarvan sewe internasionale lande verteenwoordig waar ‘n groot hoeveelheid Suid-Afrikaanse wyne verkoop word.

Lynne Sherriff MW van Brittanje is een van die wêreld se gesaghebbendste wynkenners, die eerste Suid-Afrikaanse voorsitter van die internasionale Institute of Masters of Wine, en ook ‘n gekwalifiseerde Kaapse Wynmeester.

Rebecca Leung is ‘n onafhanklike wynopvoeder, joernalis en konsultant. Sy is een van Hong Kong se prominentste wynskrywers met haar blog: Wine is Beautiful! Verder verskyn haar rubrieke ook gereeld in die Hong Kong Economic Journal, Wine Now Magazine, Wine Life (China) en Vino Vogue (China), om enkeles te noem.

Debra Meiburg MW van Hong Kong is ‘n invloedryke stem in die Asiese wynhandel. Sy beoordeel jaarliks by vele wynkompetisies en is die medestigter van die wêreld se eerste pan-Asiese wynkompetisie: die Cathay Pacific Hong Kong International Wine & Spirit Competition. Sy is ook die vervaardiger en aanbieder van Grape Moments, ‘n reeks van een-minuutlange wynwenke wat via taxivoertuie in China uitgesaai word aan ongeveer 60 miljoen kykers per maand. Sy het ook al in verskeie Suid-Afrikaanse kelders by verskeie geleenthede gewerk.

Tersina Shieh, van Hong Kong, is ‘n voormalige bemarker, nou wynmaker, wat al wyn gemaak het in die VK, Portugal, Suid-Afrika, China en Nieu-Seeland. Haar missie is om wynkultuur te bevorder in Hong Kong en China, en die gemiddelde verbruiker te inspireer om wyn te waardeer en geniet op ‘n onopgesmukte manier. Sy lewer bydraes tot menige wynartikels en het voorheen beoordeel by die Cathay Pacific Hong Kong International Wine & Spirit Competition.

Cees van Casteren MW is ‘n Hollandse enoloog, wynskrywer en Master of Wine sedert 2012. Cees is twee keer aangewys as Hollandse enoloog van die jaar en dien tans as voorsitter van dié land se vereniging vir enoloë, die hoofvereniging vir wynkundiges in Holland. Hy het ook 10 boeke en nagenoeg 500 artikels oor kos en wyn neergepen, is ‘n hoogaangeskrewe wynopvoeder in Nederland en bedryf sy eie onafhanklike wynkonsultasiepraktyk en opvoedingsbesigheid.

Denis Lahouratate, keldermeester by die Franse House of Bisquit Cognac, verleen sy kundigheid aan die kompetisie om die brandewyninskrywings te beoordeel. Daar is ‘n totaal van 32 ingeskrewe brandewyne in drie kategorieë – Standaard, Potketel en Oesjaar – wat vanjaar geproe gaan word.

Mark Pygott studeer tans vir sy Masters of Wine kwalifikasie en werk ook as wynopvoeder, konsultant en skrywer. Hy is gebaseer in Taiwan waar hy ook die land se beste sommeliers onder hande neem. Hy het voorheen ervaring opgedoen as gespesialiseerde wyninvoerder en verspreider in die Verenigde Koninkryk.

Dave Hughes, een van Suid-Afrika se voorste wyn- en spirituskenners met uitgebreide internasionale ervaring, sluit hom ook by die uitgelese paneel aan. Hughes is ‘n ringkop in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en ‘n hoogs bekwame beoordelaar van wyn en spiritus. Hy is ook voorsitter van verskeie panele.

Internasionale beoordelaars moet ervare wynproeërs in hul tuislande wees, maar internasionale ervaring is verpligtend. Charles Hopkins, SANWSV-voorsitter, verduidelik: “Hierdie internasionale paneellede is almal besluitnemers en kundiges met uitstekende ervaring in die proe van wyne en brandewyne. Vir Suid-Afrika is dit ‘n wonderlike geleentheid om ambassadeurs vir ons wyne te skep wat ons wynboodskap kan versprei wanneer hulle na hul onderskeie lande terugkeer.”

Die reputasie en integriteit van die beoordelaars wat gekies is, is sonder twyfel van ‘n besonder hoë standaard. Die span beoordelaars bestaan uit ‘n verskeidenheid wynmakers, navorsers, akademici, (Kaapse) Wynmeesters, wynskrywers en konsultante. Hulle word opgedeel in panele bestaande uit sewe beoordelaars, wat die inskrywings blind proe volgens hul kundigheidsgebied.

Tellings word toegeken volgens die 20-punt-skaal: 18 en hoër wen ‘n dubbelgoud, 17 punte wen goud en silwer word toegeken aan ‘n wyn of brandewyn wat 16 punte behaal. ‘n Bronsmedalje word aan inskrywings met 15 punte toegeken.

Na afloop van die beoordeling by Nederburg, sal die aankondiging van medaljewenners plaasvind op 9 Oktober 2015 by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (KIKS), tydens ‘n glansryke geleentheid wat deur Agri-Expo geborg word.

Vir meer inligting kontak Anka du Toit by die Veritas-kantoor op tel 021 863 1599, e-pos admin@veritas.co.za of besoek www.veritas.co.za.